Sinopsis

1 bladsy sinopsis:

#WatIsDieErgsteWatKanGebeur

Lana, Adrie, Vivian, Diona en Nixie is vyf uiteenlopende vroue, elkeen blyk die sterk en dinamiese vrou te wees wat die samelewing, insluitend hulself, van hulle verwag, maar inderwaarheid is elkeen van hulle besig om in haar eie “lewensrivier” te verdrink. Daaglikse uitdagings ten opsigte van werk, kinders grootmaak, die alewige geveg met gewigskwessies, depressie, seer en teleurstelling daag hulle dreigend uit om kop bo water te probeer hou.

In desperate pogings om hulle lewens aanmekaar te hou, ontmoet die vyf heimlik stukkende vroue mekaar by ’n weeklikse selfhelpgroep. Dié groepterapie slaag nie daarin om die vroue se mure te verspoel nie en hul bly daaragter skuil om hulle ware kwesbaarheid en rouheid weg te steek. Die koers waarin hierdie ondersteuningsgroep egter inslaan, is iets waarvoor nie een van hulle voorbereid of gereed is nie.

#TeveelBagasie

Avontuurterapie word deur die selfhelpgroep voorgeskryf en voor hulle hul oë kan uitvee, bevind die vyf karakters hulself op die Oranjerivier waar die besige stadslewe verruil is vir ’n wêreld so verlate en ongenaakbaar dit laat die geraas wat ook binne-in elke vrou woed stil word. Die natuurskoon staan in paradoks – so hard en genadeloos, maar ook so mooi en bevrydend. Elkeen van die karakters is daar met haar eie verskuilde, selfgesentreerde voorneme en verwagtinge. Konstante onderlangse wrywing tussen die vroue lei tot ’n ongeluk op die rivier en in ’n spanningsvolle oomblik word die gids en die vroue van die roeiboot afgegooi, meegeslinger in die gemaal en verdwyn hulle in die verte saam met die waterstroom.

#SpaneIn

Die vroue spoor mekaar op, maar sonder ’n gids en met geen kennis van die rivier of wildernis nie, raak die omstandighede al hoe moeiliker en hulle kom tot die skokkende werklikheid dat hulle oorgelaat is aan hul eie lot om oorlewing te verseker. Met elke nuwe uitdaging, besef hulle dat hulle nie uit die verlate wildernis sal kan kom sonder die gids nie. In die noodlottige soektog om hom te kry, veg elkeen van die vroue dapper, maar blind om verskillende fisieke en emosionele uitdagings te oorkom, sonder kos, sonder water en in die genadelose son terwyl elkeen van hulle se innerlike konflik hul konstant in die gesig staar. Lewensgevaarlike gebeure lei die vroue tot breekpunt ...

#SoWatNou

Soos wat die verhaal uitspeel, word afsonderlike intense oomblikke uitgelig waar elkeen van die karakters haarself en haar sterkpunte opnuut herontdek. Sy erken haar swakpunte en neem die selflose besluit om dit te aanvaar en selfs te vier. Elkeen van hulle besef dat hul nie alleen is nie en uiteindelik word ’n vriendskap gebore – en vir die eerste keer sien die vroue mekaar in ’n ander lig. Hulle kyk ook anders na hulself en met nuutgevonde dapperheid sit hulle die soektog na hulle gids voort.

#HeelAanDieAnderKant

Sal die vroue se moed en durf hulle deurdra om hulleself en hul gids heel aan die anderkant te besorg?

Kort sinopsis:

In Stroomop ontmoet ons vyf unike vroue wat almal besig is om in hulle eie realiteite te verdrink. In ń desperate poging om genesing te vind bevind die vroue hulleself op die Oranjerivier op voorgeskrewe avontuurterapie deur ń selfhelpgroep.

Wat is die ergste wat kan gebeur?

Tydens die avontuur lei wrywing tussen die vroue, wat elkeen met hul eie verskuilde en selfsugtige redes op die reis gekom het, tot 'n ongeluk. In 'n spanningsvolle oomblik word die gids en die vroue van die roeiboot afgegooi en rondgemaal in die stroom. Die gids spoel weg en die vroue word aan hulself oorgelaat om te oorleef in die genadelose wildernis ...

Sal hulle heel aan die anderkant uitkom?

Stroomop vertel ń verhaal van lewe en dood, vriendskap, selfontdekking, vergifnes en genesing.

Dié avontuurfilm word op Vrouedag 9 Augustus 2018 vrygestel. #RaakVerloreVindJouself

Twee sinne:

Stroomop gaan oor lewe en dood.

Die verhaal van vyf vroue wat op die Oranjerivier moet veg teen die dood om hulleself te herontdek, te vergewe, en te aanvaar om werklike genesing te beleef en vriendskap te vind.

Een lyn:

Raak verlore, vind jouself.