Hoofstuk 1

*This content was only published in Afrikaans.

===

Oomblikke

As dit alles verby is, is dit al wat ons het. Dit is altyd net oomblikke . . .

***

In ’n verafgeleë wildernis sny ’n rivier deur die klipkranse en berge van ’n semiwoestyn, skynbaar onaangeraak deur die mens se bestaan, manjifiek in sy oeroue eensaamheid.

Tot jy weer kyk.

Knip jou oë een keer, en skielik is ’n groot geel opblaasboot duidelik sigbaar. Dit word deur die rivier meegesleur: Dit kap teen halfversteekte rotse, tol deur stroomversnellings, skiet dan soos ’n kinderspeelding in die lug op.

Die boot is skynbaar onbeman, die rivier heeltemal verlate.

Maar kyk van naderby, van nóg nader. Kyk verby die oppervlak tot in die kolkende dieptes, en dan word die spartelende lywe van ’n groep drenkelinge sigbaar.

Elkeen van die vae figure veg op ’n eie manier vir oorlewing teen die mag van die water, hulle spiere tot die uiterste ingespan, hulle hale desperaat.

Vir ’n paar oomblikke lyk dit asof daar geen hoop is nie. Die stroom is te sterk, die figure te nietig. Maar dan breek ’n hand deur die water se oppervlak.

Bebloed.

Sterk.

Vroulik.

***

Op ’n ander plek, ’n ander tyd, was ’n moeë jong chirurg die bloed van haar hande af. Daarna loop sy doelgerig die hospitaal se gange af om die slegte nuus aan ’n angsbevange familielid te gaan oordra, haar treë selfversekerd, haar houding professioneel, oënskynlik totaal in beheer van die situasie.

Maar knip weer jou oë, beskou hierdie oomblik vanuit ’n ander hoek, en dit word gou duidelik dat die dokter se skans van koel professionaliteit iets meer weerloos en onseker versteek. Want toe die familielid ná aanhoor van die tyding wil ineenstort, is dieselfde chirurg wat so selfversekerd was in die teater skielik onbeholpe en diep ongemaklik.

Gekonfronteer met die vrou voor haar se rou emosionele pyn, wil-wil die vlymskerp brein wat minute tevore tydens die operasie so kalm was nou deur paniek oorval word. Die mond wat so maklik bevele geblaf het, is stil, en die hande wat die skalpel so sekuur deur die pasiënt se vel kon laat gly, is lam langs haar sye.

Die dokter weet dat sy op hierdie oomblik na die gebroke vrou voor haar moet uitreik. Basiese menslikheid vereis dit.

Maar sy kan nie.

***

In dieselfde stad, in ’n spogbuurt nie te ver van die hospitaal nie, klop ’n jong vrou huiwerig aan haar ouerhuis se voordeur. Dis laat in die nag en sy is omring deur ’n klomp haastig gepakte tasse.

’n Statige ouer vrou maak uiteindelik die deur oop. Daar is ’n effense huiwering, die ma oorbluf, die dogter ontwykend, en dan is die pa ook daar, so oorstelp van blydskap dat hy sy dogter in sy arms toevou en wild in die rondte swaai. Daar is uitroepe van vreugde, ’n harde gelag, omhelsings en trane – ’n paar oomblikke van perfekte huislike geluk.

Tot jy weer kyk.

Kyk ’n bietjie meer indringend en let op hoe die dogter haar ma se vraende oë vermy en haar aandag op haar pa toespits. Kyk hoe die ma bekommerd na die tasse voor die deur loer, ’n frons op haar gesig. Merk dat die pa se glimlag miskien té gul is, sy lag te hard, sy vreugde te uitbundig. Amper asof hy vir iets probeer vergoed.

Asof hy weet dat daar, met dié twee vroue, geen ander rol is wat hy moontlik kan speel nie.

***

In ʼn siellose werkshokkie in ʼn oopplankantoor sit ʼn vrou en frons.

Op hierdie oomblik lyk sy hardwerkend en selfversekerd: die tipe vrou wat haar nie veel aan die samelewing se verwagtinge steur nie. Haar hare is argeloos teruggekam, haar bril groot en onvleiend, haar gesig sonder grimering, haar klere sonder enige fieterjasies.

Maar kyk weer, en die moontlikheid ontstaan dat haar praktiese styl eerder dui op ’n gebrek aan vroulike selfvertroue as ’n ongeërgdheid oor wat mense van haar mag dink. Wat help dit immers jy doen moeite as niemand jou ooit raaksien nie?

Sy staar mismoedig na die rekenaarskerm voor haar. Dit is egter nie die verslag waaraan sy werk (2018 STATS: The serotonin benefits of Vitamin D) wat haar so neerslagtig laat voel nie, maar die generiese boodskap wat ’n minuut gelede op haar skerm verskyn het.

Happy birthday, Vivian! From all of us at Facebook, we hope you have a wonderful year.

Dis die enigste boodskap wat sy nog vandag ontvang het.

***

In ’n voorstedelike huis staan ’n vrou voor ’n spieël en aantrek. Haar tuiste is die toonbeeld van ’n uitbundige en chaotiese gesinslewe: Daar is speelgoed op die vloere, kinderlaggies in die tuin, die hemelse geur van varsgebakte koekies uit die kombuis. Die kamer waarin sy staan, spreek van middelklasgemak eerder as weelde, maar die foto’s teen die mure vertoon ’n ander tipe rykdom. Op elke foto kyk ’n man en drie seuns liefdevol na haar, hulle oë gevul met die tipe bewondering wat dit duidelik maak dat sy die spil is waarom al vier se lewens draai.

Sy is duidelik die hart van die huis – ’n baie gelukkige vrou.

Maar knip jou oë vinnig, beskou die oomblik van nader, en let op na wat sy besig is om aan te trek. Ten spyte van die son wat helder buite skyn, is die kledingstuk in haar hande nie lig en kleurvol nie; dis dik en gryserig en skynbaar heeltemal te klein vir haar. Vir ’n paar minute probeer sy desperaat haar kurwes in hierdie nuwerwetse tipe korset inforseer: ’n folterende stuk spandex wat haar gul, sagte liggaam só knel dat sy uiteindelik nes ʼn opgestopte wors voel.

Toe sy op die ou end weer haar weerkaatsing in die spieël aanskou, kan sy nie anders as om te lag nie. Maar dis die soort bitter laggie wat mens gee as jy jouself nie kan toelaat om te huil nie.

Ha-ha-ha. ’n Vet vrou in Spanx met krullers in haar hare.

Hoe snaaks is dit nie.

Ha-ha-ha.

***

Oomblikke. Dit is al wat ons het.

Maar ’n oomblik kan verraderlik wees. Dit kan ’n halwe waarheid vertel, ’n valse beeld skep, ’n mens heeltemal in die verkeerde lig stel. Moet dus asseblief nie te gou afleidings maak oor hierdie vroue se lewens nie. Moenie te hard oordeel, te vinnig tipeer nie.

’n Vrou is baie dinge, en kan nie deur ’n enkele oomblik gedefinieer word nie.

Soms moet ’n mens die oomblikke verbind – lyntjies tussen die kolletjies trek – voordat jy die hele prentjie sien. Want dis eers as die grepe in ’n verhaal saamgebind word, dat mens regtig perspektief kan kry.

Dat jy regtig kan verstaan.