Onseepkans, waar in die wêreld?

Onseepkans, waar in die wêreld?

23 Aug 2017 @ 13:06

Die storie van Stroomop broei al vir twee jaar in ons harte en gedagtes en saam met dit die groot, wilde droom om die storie op die Oranje Rivier te gaan vasvang. Later het die gedagte om dit liewer op die naaste, beste rivier te gaan verfilm aantreklik begin lyk... Aantreklik vir die begroting en baie aantreklik ten opsigte van die logistieke! Maar soos dinge moet uitwerk het ons onlangs die besluit geneem om ons oorspronklike hartsbegeerte en droom te volg en in Onseepkans, teen die Oranje Rivier te gaan verfilm. Inderwaarheid kan die verlatenheid en wêreld wat ons wil skep in die storie van Stroomop nie op enige ander plek so rou en eerlik vertel word soos by Onseepkans nie. Dit was nie enigsins ’n vinnige of ligte besluit om te neem nie, want kyk, Onseepkans is nou werklik tussen niks-en-nêrens ...

​​​​​​

1009km van die huis (Johannesburg) af ... Op die bank van die Oranje Rivier, teen die Namibiese grens, is dié klein nedersetting in ongeveer 1916 gestig. Waar die naam vandaan kom is ’n goeie vraag! Ivan Botha, regisseur van Stroomop vertel die legende wat hy glo die waarheid is in die video hieronder. En nou, meer as 100 jaar later het ons besluit om die Stroomop-storie daar te gaan omskep in ’n film waarmee ons hoop om die hele Suid-Afrika saam te neem op ’n avontuur wat niemand gou sal vergeet nie.

Ons eerste besoek ...

So paar weke terug het ons die pad aangedurf na Onseepkans vir ’n “location scout”, dit was ons eerste kennismaking met hierdie asemrowende landskappe van ons land.

Die enigste manier om by Onseepkans uit te kom sluit ’n tawwe grondpad van so 55km vanaf die naaste geteerde dorpspad van Pofadder in. En moenie vir een oomblik dink dat jy hierdie pad soos enige ander normale uitstappie gaan aanpak nie, die wêreld is warm! Baie water en goeie sonbrandmiddels is broodnodig vir temperature wat gemaklik tot 50 Grade Celsius styg in die tyd wat ons daar gaan verfilm. Op pad na ons “filmstel” het ons gestop en mense gevra om ons te help om Onseepkans te vind, kyk die video hieronder en kom soek saam.

Onseepkans, berei jouself voor! Voor jy jou oë uitvee is ons op jou voorstoep met ’n entoesiastiese filmspan, kameras, skedules en hande wat regstaan om die verhaal van Stroomop en die stories van die dames op jou rivier te kom skep.