'n Damesavontuur vir almal!

'n Damesavontuur vir almal!

30 Aug 2017 @ 11:41

Met die laaste stroompie van Vrouemaand vloei ons na die vors, die denke en die dinamika agter die vrouetemas en gedagtes wat die nuwe avontuurfilm Stroomop dryf. Vrouemaand word in Suid-Afrika as huldeblyk herdenk vir die duisende vroue wat op 9 Augustus 1956 ’n massa-stap na die Uniegebou in Pretoria afgelê het. Vandag word hierdie maand geken deur die viering van volheid vrouwees, positiewe denke, opstaan, saamstaan en ondersteuning. Nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd word vroue erken as dapper vegters met sagte siele wat die lewe in balans bring en mooi maak.

Ons wil uit ons nate bars van opgewondenheid om die vroue van Stroomop se stories met julle te deel, maar terwyl ons nog skaaf daaraan kan ons intussen vertel wat die hart en diepte agter die stories gekweek en gevorm het tot by die temas van Stroomop.

Het jy geweet wanneer visse reg is om geboorte te skenk keer hulle terug na die strome van hulle geboorteplek om in dieselfde area geboorte te skenk – dít vereis van hulle om stroomop te swem? Stroomop vir nuwe lewe! Net so is dit met die dames van Stroomop, hulle moet letterlik en figuurlik stroomop swem om ’n nuwe blaadjie om te slaan. 

In die konteks van die komende film staan die term 'Stroomop' teenstrydig teenoor die woordeboekverklaring. In die HAT word ‘stroomop’ figuurlik beskryf as: “nie (wil) doen wat ander doen nie; moedswillig wees.” In ons konteks beteken stroomop om teen die norm, die mensgemaakte verwagtinge van perfek-wees te gaan. Ons het geleer dat mens soms stroomop moet swem om jouself – jou regte self – in die mallemeule van waters te vind en ons wil dit graag met kykers deel. Hoewel die temas direk tot en van vroue praat, sal die manlike geslag beslis ook kan aanklank vind, want op die ou end bevind ons almal ons in scenario’s waar ons stoei en baie keer besig is om te verdrink in die voorgee om die perfekte ma, pa, suster, broer, tannie, oom, ouma, oupa, werker, dogter of seun te wees.

​​​​​​

Die term 'stroomop' het ook ’n letterlike betekenis in die konteks van die film, waar die vroue uit hulle normale, ingeoefende omgewings verwyder word en op die Oranje Rivier in die middel van nêrens verskeie uitdagings en gevare moet oorkom. Dit is Donnalee Roberts, hoofrolspeler, medeskrywer en medevervaardiger van Stroomop, se eerste keer in die tawwe wêreld van die Noord-Kaap, maar sy is gereed vir die uitdagings: “Ek het die voorreg om 'n karakter te vertolk wat so rou en eerlik is saam met vier ander fenomenale vroue wat almal braaf genoeg is om saam met my op hierdie reis te gaan en soveel wonderlike en moeilike elemente van vrouwees te ontdek.

Roberts beskryf die drie omvattende temas van die film as selfontdekking, genesing en aanvaarding. Die drie temas spreek tot enige en elke mens, want soos sy sê: “Gedurende jou lewensreis gaan jy partymaal voel of jy verdrink, partykeer gaan dit vir jou voel of die water te diep en te donker en te rof is en die golwe oor die klippe jou vul met vrees. Jy gaan jouself tien teen een probeer oortuig om om te draai en dat dit makliker gaan wees om jouself maar net weer in die vloei van die stroom te verloor, of erger nog - in te oordeel, in te dieet, in te forseer en in te verander - Vir wat? Net om 'n ‘label’ op jou voorkop te kan plak wat aan wêreldse “trends” en vereistes voldoen? Om in te pas in 'n voorkoms of menswees wat gegiet is uit persepsies? Net om weer oor 'n week uit te vind ‘that was so last season’?!”

Ja, ons almal ken dit ... Ons weet waarvan sy praat en daarom kan ons nie wag om kykers saam te neem op die avontuur waar ons die vyf vroue se uiteenlopende stories, struikelblokke en oorwinnings gaan ervaar en as ons eie kan beleef nie. 

Volg ons op Twitter (@stroomopfilm), Facebook en Instagram (Stroomop Film)

Kyk die video hieronder waar medeskrywers en medevervaardigers op die oewer van die Oranje Rivier staan – hoe mooi!