Lente op die Oranje Rivier

Lente op die Oranje Rivier

27 Sep 2017 @ 10:43

Die lang pad Oranje Rivier toe begin met baie karre en besige strate, dis eers honderde kilometers verder waar die besig na stof, saligheid en stilte verander. Wanneer die teerpad grondpad word verander mens se gemoed so saam met al die tasbare omliggende faktore. Die geboue is verruil vir berge, die stopstrate en robotte vir bome en bosse en die bedrywighede vir oop, blou lug met geen einde. Mens verkyk jou aan ’n wêreld wat in dieselfde asem verfrissend mooi, maar ook kliphard voor jou uitgestrek lê. En dan verruil jy ook uiteindelik die altyd-aktiewe-bedrywigheid binne-in jou vir rustigheid.

Die grondpad vanaf Pofadder na Onseepkans – Stroomop Produksie Recce September 2018

Uiteindelik by die rivier ontdek ons dat water ’n manier het om die hardheid van die landskappe om ons vir tye heeltemal weg te spoel en jou in ’n ander wêreld te plaas. Die waterstrome verdiep die rustigheid met opwinding en avontuur, en die produksiespan van Stroomop het vir ’n week die geleentheid gehad om dit eerstehands te beleef.

Donnalee Roberts en Ivan Botha glimlag vir die kamera op die Oranje Rivier tydens hulle Produksie Recce – September 2018

​​​​​​

Ons het behoorlik lente op die Oranje Rivier gevier! Dag een is ons reeds ingespan met roeispane, reddingsbaadjies en helmets, gereed om ons opwindende filmstel te verken.

Op die foto staan Ivan Botha en Donnalee Roberts, gereed met spane in die hand, en luister aandagtig na Clinton Lerm van SA Forest Adventures tydens die veiligheidsvoorlegging voordat ons die eerste keer die waters ontmoet.

Al vyf aktrises sal oor die volgende paar maande vir “river rafting training” gaan om 100% gemaklik op die rivier te wees. Donnalee is van mening dat sy volgende jaar saam met ander aktrises hierdie rivier gaan moet aanpak sonder enige twyfel of terughou “My karakter beland in ’n situasie waar sy op die rowwe waters moet leiding neem, so dis uiters belangrik vir my as aktrise om ten volle voorbereid te wees vir die uitdagings om op die rivier te kan verfilm.”

Ons het met ons produksiebestuurders, Maricia Pieterse en Paul Redelinghuys gesels oor hulle ervaring tydens die ontdekking en verkenning van die Oranje Rivier. Kyk gerus die video hieronder.Paul en Maricia moes natuurlik ten alle tye hulle produksiehoedjies dra wat beteken het dat hulle nie net die mooi en opwinding kon inneem nie, maar ook moes kyk na uitdagings wat die avontuur kan inhou wanneer ons die hele filmspan van ongeveer 50 mense saambring volgende jaar. Uitdagings is daar beslis, maar soos Paul sê “Ons gaan dit rock!”

Paul en Maricia op die Oranje Rivier tydens Stroomop se produksie recce in Onseepkans, Noordkaap.

​​​​​​

​​​​​​

Ons besef keer op keer opnuut hoe min mense al die voorreg gehad het om dié deel van ons land te kon besoek en dit is só mooi dit verdien om verken te word deur elke liewe Suid-Afrikaner. Ons kan nie wag om julle almal saam te neem met Stroomop om die mooie Noordkaap te ontdek saam met ons nie.

Baie dankie aan SA Forest Adventures wat ons tyd op die rivier moontlik gemaak het en ons gaan help om al ons kykers op dieselfde avontuur te neem volgende jaar.