As jy stroomop vaar, moet jy die regte span(e) hê

As jy stroomop vaar, moet jy die regte span(e) hê

23 Nov 2017 @ 13:37

Tien jaar is ’n lang tyd. Mense en omstandighede kan baie verander in tien jaar. In meeste gevalle het ons al bietjie van die menswees wat ons toe was agter en vergete gelaat. In dieselfde asem is tien jaar sommer baie vinnig verby  – ’n oogwink na jou laaste skooldag en jy moet regstaan vir jou 10-jaar-reünie. Knip weer jou oë en jou eersteling is al tien!

Ivan Botha en Tom Marais het ’n dekade terug op Bakgat 1 se stel ontmoet. Daar het hulle ’n ooreenkoms aangegaan en hoewel baie dinge in en om hulle lewens al verander, vergete en verlore is, staan hulle ooreenkoms rotsvas.

 

Ons het met Ivan gesels oor dié ooreenkoms, hy sê: “Ek raak baie vinnig verveeld op stel as ek net akteur is. Dus het ek baie van my 'dom ure' spandeer om te leer van elke departement op 'n filmstel, dit is hier waar ek en Tom se pad gekruis het. Ek het baie geleer en toe al geweet en wil regie doen, maar wou volwasse genoeg wees as ek daai uidaging aanpak. Ons het op die stel van Bakgat 1 'n belofte aanmekaar gemaak, as ek my eerste film se regie doen sal Tom daar wees vir my. Tien jaar later en hier gaan ons op ons eie avontuur.”
 

Ivan is bekend vir sy rol as skrywer, akteur en vervaardiger in die plaaslike filmbedryf en nou tel hy ook die spaan op as regisseur vir die nuwe avontuurfilm Stroomop. ’n Mooi beskrywing vir ’n filmregisseur wat ek teëgekom het lees soos volg: “’n Regisseur is die persoon wat die maak van ’n film stuur. Oor die algemeen beheer die filmregisseur die film se kreatiewe en dramatiese aspekte en visualiseer hy die filmteks terwyl hy leiding gee aan die tegniese span en akteurs in die poging om sy visie te vervul.” Wat ’n spaan om mee te roei! “Ek is opgewonde om aan stuur van Stroomop te wees en ek is gereed om dit saam met die regte span te doen”, sê Ivan.

 

Ons het ook met Tom gesels oor die afgelope tien jaar in sy lewe, lees hier wat hy sê: As ek myself nou in my skoene van tien jaar gelede moet plaas sou ek nie gedink het dat ek ’n getroude man met ’n pasgebore tweeling wees nie! Wat ’n blessing. Die lewe het baie draaie geloop met my , maar een ding wat rotsvas gebly staan het die afgelope tien jaar is my liefde en passie vir die filmbedryf. Ek onthou op die stel van Bakgat 1 hoe gefokus en hardwerkend Ivan was, hy het elke dag voorbereid opgedaag en het nie “gesettle” vir minder as die beste nie.

My ervaring was nog yl, maar so was ons almal op stel. Ons het mekaar gehelp en dit was regtig ‘n groot spanpoging, niemand was meer belangrik of minder belangrik as die volgende persoon op stel nie. Die akteurs het help ligte opstel, die crew het gehelp met alles. Dit bly tot vandag toe nog een van my gunsteling ervarings. Intussen het ek al die voorreg gehad om nie net plaaslike stories te help mooimaak en vertel nie, maar ook op ’n internasionale vlak – kyk uit vir “Hunter Killer” met Gerhard Butler wat in 2018 sy verskyning wêreldwyd sal maak.

Vir ’n regisseur is elke rolspeler in die filmspan belangrik, maar die kinematograaf is van besonderse belang. Die kinematograaf en die regisseur moet mekaar verstaan sodat die visie van die regisseur deur die lens van die kinematograaf vasgevang kan word en die eindproduk inlyn is met die regisseur se droom vir die projek. ’n Groep van ons het reeds tydens ons eerste film-recce in Onseepkans groot waardering ontwikkel vir die sinergie wat daar tussen Ivan en Tom eensklaps ontstaan het. En met sekerheid kan ons voorspel dat Stroomop-kykers dieselfde gaan voel wanneer hulle die eindproduk van die jaar-lange vaartbelynde samewerking sien op die grootskerm. Te danke aan Ivan en Tom se passie en liefde vir die plaaslike filmbedryf het hulle belofte staande gebly deur die jare.

Ivan Botha (regisseur) en Tom Marais (kinematograaf) op die Oranje Rivier ter voorbereiding van die nuwe avontuurfilm, Stroomop.

Ivan Botha het sy regisseurshoed op en visualiseer hoe hy die storie van Stroomop gaan vertel op dié deel van die Oranje Rivier. 

Tom Marais, kinematograaf van Stroomop, saam met Jacob van SA Forest Adventures op die Oranje Rivier.

 

Nog 'n belangrike rolspeler vir die regisseur is natuurlik sy mede-dromer en -doener. Ivan gaan darem nie alleen in die onbekende waters roei nie, Donnalee Roberts is weer aan sy sy as medeskry wer en medevervaardiger, en sy vertolk ook die hoofrol in Stroomop.Donnalee Roberts en Ivan Botha op ’n SA Forest Adventure raft in die middel van die Oranje Rivier besig met voorbereiding vir hulle nuwe avontuur.

Ivan en Tom het ’n paar interessante feite met ons gedeel, leer ken hulle beter en maak seker jy kyk ook die video hieronder waar hulle twee self vertel van hulle vriendskap, belofte en die nuwe avontuur wat voorlê.

IVAN BOTHA                                                                          

Gunsteling kos: Koekies en Kaas                                                                          

Gunsteling kleur:  Blou                                                                                      

Gunsteling sê-ding:  Wat is die ergste wat kan gebeur?                                       

Slagspreuk vir jou lewe:  Be Kind, Be Brave, Make a difference!                         

Wat maak jou opgewonde oor Stroomop?  Die feit dat ons as storievertellers saam met die karakters 'n lewensavontuur gaan aanpak.

TOM MARAIS

Gunsteling kos: My vrou se Herderspastei en my ouma se ryspoeding

Gunsteling kleur: Teal

Gunsteling sê-ding: “as hy uit moet hy uit!” wat my familie sê as iemand per ongeluk hard poep, hahaha!! ek sou sê my gunsteling sê-ding, “ons vat hom soos hy kom!"

Slagspreuk vir jou lewe: so baie, ek hou van verandering en raak vinnig verveeld, so op die oomblik is dit “You can’t climb the ladder of success with your hands in your pockets” - Arnold Schwarzenegger

Wat maak jou opgewonde oor Stroomop? Die storie, die span, die avontuur, die ervaring, die geleentheid :)

Gesels saam op ons sosiale media platforms: Facebook | Twitter | Instagram.                                                      

Deur: Jessica Fitzcharles