’n Weggesteekte juweel in SA

’n Weggesteekte juweel in SA

18 Oct 2017 @ 13:49

Ivan en Donnalee het na hulle eerste besoek aan Onseepkans vir ons by die kantoor kom vertel van die pragstuk landskap waar ons land met haar eie Kokerboomwoud spog. Ek het toe al begin uitsien daarna om self ook hierdie woud te gaan verken daar vêr in die Noordkaap. Soos wat ek vir mense begin vertel waar ons Stroomop gaan verfilm het menigte familie en vriende, veral die wat al bietjie grys om die slape begin raak, ook met oorgawe gesels oor dié kokerbome as mens Namakwaland nader. Bietjie skaam, moet ek erken dat voor my kennismaking met Onseepkans en daai deel van ons land het ek nog net gehoor van ’n Kokerboom ... Ek kan vaagweg sprake van so boom onthou, maar toe ek dié boom – wat vir my so al na ’n oorgroot-bonsai-boom lyk – ontmoet, het dit my asem weggeslaan.

Fotokrediet: Tom Marais

Elke boom in sy eie reg so treffend soos die volgende een. As iets my binneste so roer kan ek nie anders as om meer te leer daaroor nie, so ek het bietjie gaan oplees en rondvra oor dié ene boomaalwyn, want in die engere sin van die woord is die Kokerboom nie werklik ’n boom nie, maar ’n vetplant wat tot die familie van aalwyne behoort. Die naam is gebore by die Khoi en Boesmans, wat oorspronklik hierdie deel van die aarde platgeloop het. Hulle het dit Kokerboom genoem omdat hulle dikwels kokers vir hulle pyle gemaak het van die stamme. Dit lyk ook soos ’n boom aangesien dit maklik 9m hoog word. In my verbeelding sien ek nou die rotssketse van die pylkoker wat om die boesman se skouer hang. Ek is seker as ons mooi dink sal ons ook die kokerbome in dié sketse kan opspoor.

Min het ek geweet dat Suid-Afrika die grootste populasie per vierkante meter van hierdie mooi bome huisves! Hulle noem hierdie weggesteekte juweel die Kokerwoud. Dis nie ’n woud soos wat ons een ken met stampvol gerygde groen nie, maar dit is ’n woud nietemin, een wat jou onkant betrap en bybly.

Tydens ons ‘location scout’ in Onseepkans was dit uiteindelik tyd om dit self te sien. Terwyl ek my verkyk aan die lang, stowwerige, bruin, uitgestrekte pad voor my begin die Kokerbome opduik, een vir een, van nêrens. Die volgende ding wat ek hoor is dat ons ín die woud is. En hoe mooi is dit nie! Ongevraagd die mees treffende plant in die ongerepte landskap. Ek is mal oor hoe Donnalee dit beskryf: “Hierdie woud het die onbeskryflikste vermoë om jou stil te laat ... in verwondering ... en so klein in elke boom se magiese bestaan, asof daar 'n leeftyd se stories in elke wortel en elke tak gebêre is!!”

Ek stem saam! En ek ek kan nie wag om vir almal te wys en self te sien hoe Donnalee en Ivan hierdie leeftyd se stories gaan verweef saam met die strories van die vyf vroue in die verhaal van Stroomop nie. 

Donnalee Roberts en Ivan Botha by ’n Kokerboom naby Onseepkans.

Die Stroomop-span in die Kokerwoud naby Onseepkans, Noordkaap. Van links na regs: Danie Bester (mede-vervaardiger), Clinton Lerm (SA Forest Adventures), Ivan Botha (regisseur, skrywer en vervaardiger), Donnalee Roberts (akteur, skrywer en vervaardiger), Maricia Pieterse (produksiebestuurder), Tom Marais (Kinematograaf), Jessica Fitzcharles (projekbestuurder) en Paul Redelinghuys (produksiebestuurder).

​​​​​​

As jy dit dus nog nie gesien het nie, maak dit deel van jou ‘bucket list’ van dinge en plekke om te sien in Suid-Afrika. Dit is werklik iets om te aanskou – ongerep en sterk, maar tog so kwesbaar. Ek het gelees dat heldergeel blomme die kokerbome versier in Junie en Julie, so beplan jou besoek mooi.

Paul Redelinghuys, een van ons produksiebestuurders het met die ‘drone’ oor die Kokerwoud gevlieg, kyk gerus na die mooi foto en ook die kort video hieronder en beleef dit self. 

Indien jy wel al die voorreg gehad het om die deel van die land te kon verken, deel gerus jou fotos met ons op Facebook, Twitter en Instagram. (Stroomop Film, volg die skakels onder. 

Blog skrywer: Jessica Fitzcharles