Ivan Botha

Regisseur, Vervaardiger en Draaiboekskrywer

Akteur, skrywer en vervaardiger Ivan Botha is alombekend vir sy werk op die lokettreffers Pad na jou Hart en Vir Altyd. Die roprent Pad na jou Hart word bekroon as film van die jaar by die 2014 Tempo-toekennings. Ivan het ook weggestap met die prys vir Akteur van die Jaar vir sy hoofrolle in beide dié films by 2014 en 2016 se Tempo-toekennings. Saam met Donnalee Roberts is Ivan agter die stuur van die skryf, vervaardiging en bemarking van beide die films.

Ivan is die mede-eienaar van die produksiehuis 17 FILMS, wat spesialiseer in die ontwikkeling, vervaardiging en bemarking van kwaliteit, waardegebaseerde films. 17 FILMS was ook verantwoordelik vir die bemarking van die suksesvolle film, Ballade vir ’n Enkeling.

Na bykans tien jaar in die filmindustrie is Ivan gereed om sy debuut as regisseur in 2018 te maak. Hy het die regie van die nuwe avontuurfilm Stroomop behartig wat in Augustus in 2018 vrygestel sal word en hy is ook die medeskrywer en -vervaardiger van Stroomop.

Ivan het sy nasionale diploma in Drama vanaf die Tegniese Universiteit van Tshwane ontvang, waar hy gespesialiseer het in regie en draaiboekskryf. Vandaar het Ivan al sy verskyning in bekende televisiereekse gemaak, soos 7de Laan, Villa Rosa en Getroud met Rugby. Sy filmkrediete sluit Hond se Dinges, Superhelde, Roepman, Verraaiers, Bakgat 1, 2 en 3, Pad na jou Hart en Vir Altyd in. Ivan se passie is gebore op die verhoog en hy was al op die planke met Dis Ek, Anna (2006), Hel op Hemel en Aarde (2011), Ben, Babsie en Familie (2013) en Beurtkrag (2016/2017).