Donnalee Roberts

Vervaardiger en Draaiboekskrywer

Die Suid-Afrikaanse aktrise, vervaardiger, skrywer en model Donnalee Roberts is alombekend vir haar werk op die bekroonde lokettreffers Pad na jou Hart, Ballade vir ’n Enkeling en Vir Altyd.

Donnalee en Ivan Botha het vir die eerste keer in 2014 kragte saamgespan en staan agter die skryf, vervaardiging en bemarking van Pad na jou Hart wat bekroon is as Film van die Jaar by die 2014 Tempo-toekennings. Donnalee ontvang by hierdie toekennings ook die prys vir Aktrise van die Jaar vir haar hoofrol as Amory. Sy word ook genomineer vir ’n SAFTA-toekenning vir Aktrise van die Jaar vir haar rol in hierdie film. Pad na jou Hart word in die daaropvolgende jaar weer bekroon as Film van die Jaar deur die Natal Film Commission se Simon Sabela Toekennings.

In 2015 het Donnalee die hoofrol van Carina Human vertolk in die verwerking van die gelyknamige ikoniese televisiereeks, Ballade vir ’n Enkeling. Donnalee ontvang die Tempo-toekenning vir Aktrise van die Jaar vir haar rol in hierdie film.

Weer saam met Ivan staan Donnalee agter die skryf, vervaardiging en bemarking van Vir Altyd wat in 2016 bekroon is as Film van die Jaar by die Tempo-toekennings. Donnalee het ook – vir die derde jaar in ’n ry – die Tempo-toekenning vir Aktrise van die Jaar gewen vir haar hoofrol as Nina in dié film.

Donnalee is die mede-eienaar van die produksiemaatskappy 17 FILMS wat spesialiseer in die ontwikkeling, vervaardiging en bemarking van kwaliteit, waardegebaseerde films. 17 FILMS is ook verantwoordelik vir die bemarking van die suksesvolle film, Ballade vir ’n Enkeling.

In 2018 vertolk Donnalee die hoofrol in die nuwe avontuurfilm Stroomop wat in Augustus hierdie jaar vrygestel sal word. Sy beklee weer die rol van mede-ontwikkelaar, -skrywer en -vervaardiger agter die skerms van hierdie film.

Ander toneelkrediete sluit haar rol as Cybil Ferreira in die film Klein Karoo en Annelie in die televisiesepie 7de Laan in. In 2016/2017 toer Donnalee saam met Ivan Botha met hulle verhoogstuk Beurtkrag.

Donnalee ontvang haar nasionale graad in BA Drama vanaf die Universiteit van Pretoria, en daarna voltooi sy ’n twee-jaar kursus aan PALI (Performing Arts and Lifestyle Institute). In 2012 het Donnalee aan die bekende New York Film Academy gestudeer waar sy ’n diploma in toneelspel vir film ontvang het.