Bathoni Robinson

Kunsregisseur

Bathoni Robinson se bydrae tot die filmbedryf begin as kamera-assistent by die African Cup of Nations in Burkino Faso in 1998.

Dit is egter 20 jaar later en in hierdie tydperk betree sy die advertensiebedryf as stilis en kunsregisseur en reis sy na Singapoer, die Midde-Ooste en Australië met die uitleg en ontwerp van restaurante, asook in Johannesburg, Pretoria en Kaapstad.

Die rolprentbedryf is waar haar fokus die laaste vyf jaar ingespan is, en met haar werkservaring in tien lande in Afrika het die advertensiewêreld vir haar ’n uitstekende platform en oefenveld geskep vir die ontwikkeling van ’n oog vir die interpretasie van tekstuur en die fyner detail in die kreatiewe proses van die storielyn en karakters se ontwikkeling . ’n Groot passie is periodewerk en die ongewone en uitdagende stories wat vertel moet word.

Haar talentvolle aanslag in haar werk is duidelik te sien in Bloedbroers, ’n televisiereeks van 13 episodes, die rolprent Modder en Bloed wat albei in die 1900’s afspeel asook die meer onlangse Vir die Voëls , ’n Ander Mens en Die Storie van Ellen Pakkies. Sy het ook op die gewilde reeks Fluiters en het SAFTA’s ontvang vir haar bydrae tot Pretville en Bloedbroers.

“ Die grootste uitdaging sal altyd wees om die kyker te kan meevoer, om ’n kreatiewe wêreld te kan skep waar die karakter se narratiewe ontwikkeling en die storielyn tussen die tasbare en die emosionele wêreld kan lê.”