Diona

Ilse Klink

Ilse is ’n bekende en geliefde Suid-Afrikaanse akteur wat al verskeie rolle in produksies op die verhoog en op TV en die grootskerm vertolk het. Sy is mees bekend vir haar rol as Vanessa Booyens in Isidingo waarvoor sy in 2000 ’n Avanti-toekenning gewen het. Ilse het ook ’n Naledi-toekenning gewen vir haar rol in die musiekblyspel Big Bang Blast en was ook vir ’n Naledi-toekenning genomineer vir haar optrede in The Amen Corner by die Markteater. Haar mees onlangse werk, Scorched, waarins sy die rol van die aktivis Nawal vertolk, het vir haar die 2017 Naledi-toekenning as Beste Aktrise besorg. Kristalvlakte, gebaseer op Brecht se Mother Courage, het vir Ilse die 2017 Fiësta-toekenning as Beste Aktrise besorg.

Ilse het ook ’n Fleur du Cap-nominasie ontvang vir haar vertolking van Mamma Morton in Chicago. Sy het geweldig ondervinding in musiekblyspele en het opgetree in Janice Honeyman se Showboat, Menopause en Rent. In 2010 was sy te sien in die glansryke Sisters in Song asook as Rosie in die verhoogproduksie, Mamma Mia. Voor dit was sy Vicky in The Full Monty en Jaci de Villiers en Tina in Does My Bum Wobble? Ander teaterwerk sluit in die rol van Wolf in Gina Shmukler se Brer Rabbit en Katie in Stuur Groete.

Sy was onlangs te sien in een van die hoofrolle in die TV-reeks Roer Jou Voete en het ook rolle vertolk op Telenova Inkaba op Mzanzi Magic, asook in die sepies Villa Rosa en 7de Laan.

Ilse gaan ook in 2018 in die film The Path te sien wees.